Temba Travel

Vasbyt Logo


KALAHARI VASBYT 2018

Slegs vir ouens wat in 2018 in gr 10 en 11 sal wees.

BESPREEK NOU>>


“Temba Kollege is trots op ons uitstaande verhouding met talle skole. Geen skool is egter betrokke by enige van ons projekte nie en geen skool aanvaar verantwoordelikheid vir ons projekte nie.”

Tel: +27 (0) 21 855 0395

Kalahari Vasbyt vir jongmanne.

(Slegs ouens wat in 2018 in gr 10 of 11 is mag inskryf)

Sedert 1987 maak die Kalahari Vasbyt ʼn verskil in jongmanne se lewens. Die kursus is fisies en geestelik moeilik, maar die wetenskaplike basis waarop dit aangebied word verseker dat jy dissipline leer en fiks word sonder om verneder te word. Trouens, dit gaan waarskynlik die lekkerste vakansie van jou lewe word. Daar sal niks van jou gevra word wat die toerleiers nie ook bereid is om te doen nie.

Die Kalahari Vasbyt is 'n gesubsidieerde kursus. Fondse word deursigtig hanteer en alle gelde wat jy betaal (en dié van ons borge) word tot die toerlede se voordeel aangewend. Ons glo dat jongmans wat daarvan droom om 'n verskil in die wêreld te maak, eenvoudig die kursus moet doen. Dit gaan jou 'n besliste voorsprong in die lewe gee wat moeilik ingehaal sal kan word.

Disco
lekker kos

Die Kalahari Vasbyt is sonder twyfel een van die moeilikste, indien nie die heel moeilikste, fisiese en emosionele kursusse wat enige tiener enige plek in die wêreld kan doen nie. As jy dit maak, sal jy altyd trots wees daarop en dit gaan vir altyd 'n verskil in jou lewe maak.

Ons toer begin op 2 Januarie 2018 om 09h00 by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe by Johannesburg. Jy kan dus nog Kersfees en Nuwejaar saam met jou vriende of gesin deurbring.

Ons vlieg met British Airways na Victoria Falls in Zimbabwe voordat ons die Okavango Delta en Maun besoek. Dan kom die Sentraal-Kalahari Wildreservaat aan die beurt.

Die Sentraal-Kalahari is die wildste wêreld waaraan jy kan dink. Gedurende Januarie wemel hierdie omgewing van Springbokke, Blouwildebeeste, Gemsbokke en predatore soos leeus en die bedreigde bruin Hiënas. (Dit gebeur +- elke 10 jaar dat daar min diere is.)

Deur vir hierdie avontuur in te skryf, verbind jy jouself daartoe om hard te werk en 'n groot sukses daarvan te maak. As jy nie belangstel nie, is jy welkom om by die huis te bly. As jy saamkom sal jy ook moet saamwerk.

Die standaard is hoog. Ons wil in alles onder die 1000 beste in die wêreld wees. As jy ’n kar moet was, is die vraag nie of dit skoon is nie, die vraag is of ons nie 1000 tieners sou kry wat dit beter kon doen nie. As die antwoord ja is, is jy nog nie goed genoeg nie. Dit geld vir algemene kennis, fiksheid, leierskap en alles wat ons doen.

Van 2018 neem ons net ouens aan die begin van hul graad 10 en 11 jaar. Geen matrieks sal van 2018 geneem word nie. Dit is om te verhoed dat jy skool mis in jou matriek jaar.

Bestuur op die Vasbyt
roetemars

Die koste van hierdie toer sal R14 300 + USA $ 350 beloop. Dit sluit alle etes, vervoer en ontspanning in. ”Whitewater rafting”, rekspronge (bungy) en die Victoria-watervalle is ook ingesluit. Dit alleen kos meer as VSA $250 per persoon, maar is ingesluit by die prys Dit is 'n uitdruklike voorwaarde vir deelname aan die toer dat jy nie meer as R800 sakgeld mag saamneem nie.

Die toer is vol aangename verassings. Tog is dit ook belangrik om daarop te let dat jy fiks gaan terugkom. Die Kalahari Vasbyt is nie ‘n oorlewingskamp nie. Ons werk egter geweldig hard, word fiks en kry soms saam swaar. Boonop sal daar van jou verwag word om die aangehegte beginsels te onderskryf. Daar is streng dissipline op die Kalahari Vasbyt en jy sal by die reëls moet hou.

Op hierdie toer rook en drink ons nie en dit geld ook vir my. Ons kry saam swaar en ons speel saam, al kry dié wat ouer is as 40 so ʼn bietjie afslag tydens PT. Wat julle eet en drink, eet en drink ons. As daar koeldrank is, kry die volwassenes slegs as daar oorbly en as ons eet, eet die volwassenes laaste. As ons ʼn luukse vir ons gun, maak ons seker dat julle ook daarin deel. Dit is die gees van die Kalahari Vasbyt en dit is ons enigste belofte aan jou.

As jy ʼn jongman met karakter is wat avontuur wil beleef, lang ente wil bestuur in die veld, die omgewing wil leer ken en wil uitstyg bo die gemiddelde, is hierdie kursus waarskynlik net waarvoor jy gewag het.